Dinsdag 19 Julie 2022

Met die blou BMW in die Wildtuin ...

Dit was baie lank gelede.

Toe koop ek mos hierdie blou BMW – sewe reeks, tweedehands. Ek was nie daaraan gewoond om tweedehandse motors te koop nie – en ek was nog altyd ‘n Volkswagen-man.

Maar ek wou nog altyd graag ‘n BMW besit.

Nou moet ons mos iewers heen langpad ry met hierdie “nuwe” motor. En watter beter bestemming is daar as die Krugerwildtuin?

Die motor is deeglik versien voor aankope, maar voor ons vertrek kom ek agter dat daar iewers petrol lek, want elke keer wanneer ek die motor aanskakel, ruik ek petrol.

Nou is dit ook so dat ‘n mens dikwels die goedkoopste uitweg soek. ‘n Kollega beveel hierdie agterplaas-werktuigkundige aan. Vriend werktuigkundige deel  my toe mee dat hy ‘n lekkende petrolpypie wat aan die elektriese petrolpomp gekoppel is, vervang het.

Doodgelukkig en gerusgestel vertrek ons Wildtuin toe. En ons ry lekker en voel luuks in hierdie nuwe motor van ons.

Ons ervaring was nog altyd dat wanneer ons die Wildtuin binnery, dit voel asof ‘n gordyn agter jou laat sak word. Dan is jou probleme, onrus en bekommernisse dinge wat aan die ander kant van die gordyn lê. Jy word rustig, kommervry en sorgvry. Dit is asof jy deel word van die Wildtuin.

Die slim mense sou sê die Wildtuin word gesubjektiveer, en die vondse van jou soeke (diere, voëls, insekte, plantegroei) word geobjektiveer – die objekte van jou waarnemingsbelewenisse. Iemand het die verskil op ‘n keer soos volg verduidelik. Hy verwys as voorbeeld na iemand wat ‘n bril dra. Gebruik jy die bril as deel van jou visuele waarneming, word die ervaring van die bril ‘n gesubjektiveerde ervaring. Dit word deel van die subjek (die waarnemer). Word die bril voor die oë verwyder om daarna te kyk, word die visuele ervaring van die bril ‘n geobjektiveerde ervaring – die objek van waarneming.

Min wis ons destyds dat binne in die Wildtuin ander objekte en belewenisse in die Wildtuin baie prominent geobjektiveerde kommer en probleme na vore kan bring – die wesenskenmerke van die Wildtuin totaal vergete.

Nietemin.

Ons kom na middagete op Pretoriuskop aan, waar ons die eerste nag sou oorbly voordat ons na Satara sou vertrek. Omdat dit nog redelik vroeg was, stel ek voor dat ons na Skukuza ry. Ons neem toe die Napi-pad (H1-1) na Skukuza omdat dit die kortste en vinnigste roete sou wees omdat ons nie baie tyd tot ons beskikking gehad het nie.

Skukuza het destyds heel anders gelyk as vandag. Daar was nog ‘n stoep met ‘n rietdak.

Wat ek ook moet noem, is die feit dat daar destyds nie selfone bestaan het nie en dat die enigste telefoniese verbinding in die Wildtuin die een was tussen Skukuza en Pretoriuskop. Andersins was die kampe per radio met mekaar in verbinding.

Ons sit toe langs die rivier en voel meer en meer intens hoedat ons volledig deel word van die Wildtuin. Die Wildtuin word ‘n gesubjektiveerde ervaring.

Na ‘n rukkie maak ons aanstaltes om terug te ry Pretoriuskop toe omdat dit begin laat word en ons rustig wou terugry.

By ons rondawel aangekom, vra Elsabe vir my: “Waar is my handsak?”

In hierdie handsak was al ons geld en ook my rewolwer.

Die soektog in die motor lewer niks op nie. Toe onthou sy dat sy dit langs haar op die bankie waarop ons gesit het, neergesit het.

Nou is die Wildtuin vergete en dinge moet vinnig gebeur binne die tyd tot ons beskikking.

Ons jaag na ontvangs en versoek hulle om telefonies met Skukuza in aanraking te kom en ons probleem aan hulle te stel. Die verligting is groot toe hulle ons meedeel dat ‘n kelner die handsak gevind het en by Skukuza-ontvangs ingelewer het.

Maar die tyd is min en in my kop maak ek sommetjies waarin afstand en spoedbeperking in verhouding tot mekaar bereken word. En ek maak nie voorsiening vir diere-oponthoude op pad nie. En die antwoorde op die sommetjies klop nie met die tyd tot ons beskikking nie.

Net een antwoord bly oor: hoërisiko-spoed na Skukuza en terug.

En die Wildtuin en die helende gesubjektiveerde ervaring daarvan totaal uit ons gemoedservarings verwyder.

Toe ons weer op Pretoriuskop aankom, maak hulle die hek agter die blou BMW toe.

Maar dit was nie die einde nie.

Dié nag slaap ek onrustig. Die handsakgedoente lê vlak in my onderbewussyn. Nou is dit so met 'n droom. Hy gryp hier 'n stukkie en daar 'n stukkie uit jou lewe se ervaringswêreld en krap rond uit vorige ervarings wat diep in jou onderbewussyn geborge lê. Dan voeg hy dit bymekaar, vermeng en versmelt dit en skep dikwels kenbare en onherkenbare beeldkonfigurasies wat weerbarstig net wil uit. Dan droom jy.

Die goeie drome werk ‘n bietjie anders.

Dié nag openbaar die handsakstorie hom egter in talle dramatiese variasies. Rus laat hulle my nie rus of met rus nie.

Die volgende oggend vertrek ons na Satara.

Totdat ons by Tshokwane kom, wil die vorige middag se ervaring nie uit my gedagtes wyk nie. Nadat ons koffie gedrink het op Tshokwane, begin ons weer stadigaan deel word van die Wildtuin op pad na Satara. Op Satara aangekom, is ons weer volledig deel van die Wildtuin: ‘n nuwe gordyn het gesak.

Dit is middag en die tyd voordat die hekke sluit is min. Tog besluit ons om so ‘n entjie op die grondpad na Nwanetsi te ry en iewers om te draai om weer betyds in die kamp te wees. Ons ry stadig en bespied die wêreld om ons op soek na diere.

Skielik word ons bewus van ‘n sterk petrolrreuk in die motor. Ek hou onmiddellik stil en omdat die omgewing redelik bebos is, klim ek versigtig uit sonder om die motor af te skakel sodat ek die bron van die reuk makliker kan naspoor. Dit kom iewers van agter, waarskynlik digby die elektriese petrolpomp. Ek buk agter die motor en kyk …

Die petrol drup nie. Die petrol spuit!

Makeer die pomp iets of is dit weer die pypie? Ek weet nie!

Ek vermoed toe dat dit moontlik gespesialiseerde aandag vereis.

Terstond skakel ek die motor af.

Wat nou?

Ek was bewus van die feit dat daar ‘n AA-kantoor op Satara was, maar hoe kom ons met hulle in aanraking? Ek was ook nie seker of daar motors van Nwanetsi se kant af sal kom sodat hulle vir Elsabe ‘n geleentheid Satara toe kan bied sodat sy my penarie aan hulle kan verduidelik nie – want dit begin reeds skemer word.

Groot is my verligting toe daar ‘n motor van voor af kom. Ek beduie dat hulle moet stop, verduidelik my probleem en baie vriendelik bied hulle haar ‘n geleentheid. Ek voel ongerus, maar tog in ‘n mate verlig dat hulp een of ander tyd sal opdaag. Ek weet ook omdat dit al laat word, ons gelukkig was om seker die laaste motor op pad kamp toe te kon voorkeer.

Nou moet ek maar net probeer rustig raak en wag.

Skielik sien ek ‘n stofwolk voor in die pad aankom. Die stof omgeef die hele omgewing soos die motor spoed verminder en in ‘n bruin stofwolk langs my stilhou. Ek verduidelik my probleem aan die insittendes en stel hulle gerus dat hulp op pad is. “Watter hulp”, vra hulle, “want die AA-werktuigkundige op Satara doen op die oomblik sy periodieke militêre diens. Daar is niemand nie.”

My moed sak in my skoene.

Ek bedank hulle vir die geleentheid kamp toe aangebied maar ek sal moet wag omdat ek nie weet watter reëlings Elsabe miskien kon getref het nie.

In ‘n stofwolk is hulle daar weg.

Dit is nou sterk skemer. Daar is niks te eet in die motor nie, maar dit val my by dat ek ‘n houer water in die bak het vir die wis en onwis sou die motor se waterverkoeler dit benodig. Ek is pas terug in die motor, toe is dit pik-giet-nag donker. En dit is donkermaan. Ek het net nooit voorheen opgemerk dat die skeiding tussen dag en nag in die Wildtuin so skielik is nie.

Ek vermoed toe dat dit my lot is om die hele nag in die motor deur te bring, en wat die dag sal bring, dit weet ek nie. Ek weet ek sal maar moet probeer slaap, maar weet ook dat slaap se slaap nooit gaan kom nie.

Toe raak ek skielik bekommerd dat ek my miskien in die pad van bewegende olifante mag bevind – en weet ook dat as gevolg van die duisternis ek hulle eers sal sien wanneer hulle by my is.

Ek verstel die motor se sitplek sodat dit min of meer in ’n slaapposisie is, sit agteroor en maak my oë toe. Kort-kort loer ek egter die donker in. Ek sien niks nie – want dit is nag! Maar met die intense poging om die donker in te kyk, verbeel ek my dat ek groot, donker skaduwees gewaar. En dan sê my verbeelding ook vir my dat daar ligte stampe teen die motor was. Dan stel ek myself gerus met die gedagte dat dit net my verbeelding is, sluit my oë en probeer slaap.

Snaaks genoeg, hoor ek ook niks nie – geen naggeluide nie.

Omdat dit ‘n lang nag gaan wees, kyk ek kort-kort op my horlosie. Wanneer ek dink ‘n uur is al verby, is dit telkens omtrent net tien minute. Ek besef toe dat die rede daarvoor waarskynlik toegeskryf kan word aan iets wat grens aan sensoriese deprivasie. In kort beteken dit dat wanneer ‘n mens byvoorbeeld van eksterne ouditiewe en visuele prikkels ontneem word, jou begrip van onder andere tydsverloop versteur word. Ek besef toe dat ek die horlosiekykery moet laat vaar.

So lê ek toe maar met toe oë.

Skielik hoor ek die eerste naggeluide: die gebrul van leeus nie ver agter die motor nie.

Ek kyk op en wat gewaar ek in die truspieëltjie.

Van ver agter lyk dit soos twee motorliggies aan die kom. Dit kan net die AA-man wees.

Kom hy by my, vra ek hom hoekom dit so lank geduur het om vanaf Satara by my uit te kom. Sê hy dat hy nie van Satara af gekom het nie, maar vanaf Letaba – en bevestig ook dat die Sataraman besig is met militêre diensplig.

In ‘n japtrap het hy die blou BMW op die sleepwa – ek steeds in die motor. Omtrent ‘n honderd of wat treë op pad na Satara hou hy toe langs die trop leeus, wat ek ‘n kort rukkie hoor brul het, stil. Sy bedoeling was natuurlik dat ek waardering sou hê daarvoor – maar in hierdie stadium stel ek nie in leeus of enige ander dier belang nie.

Op Satara aangekom, ondersoek hy die petrolprobleem. Waar die pyp aan die petrolpomp vaskom, het ‘n skeur ontstaan. Hy sny die pyp korter, verbind dit aan die pomp – en siedaar. Hy voeg toe ook by dat hierdie petrolpyp nie die standaardpyp vir ’n BMW is nie.

En toe is hy weer op pad na Letaba.

Nie lank daarna nie het ek die blou BMW verkoop.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Met die blou BMW in die Wildtuin ... Dit was baie lank gelede. Toe koop ek mos hierdie blou BMW – sewe reeks, tweedehands. Ek was nie daar...