Dinsdag 19 Julie 2022

 

Die rivier is vol ...

Dit was in die dae toe Zimbabwe nog Suid-Rhodesië was – en alles anders was. Ons het in die Wildtuin op Skukuza gaan krieket speel.

Twee van die lede van ons krieketspan wat by ’n bekende tabakmaatskappy werksaam was, het van tyd tot tyd vriendskaplike krieketwedstryde teen ander instansies gereël. ’n Paar van ons spanlede is dan altyd genooi om hulle span te versterk. Ek en my broer Theuns was altyd onder die uitverkorenes. Tydens hierdie geleentheid het een van ons ander spanlede, J, ook die tog na die Wildtuin meegemaak. J was nog nooit voorheen in die Wildtuin nie.

Die wedstryd sou die Saterdag plaasvind.

Ons is die Vrydagmiddag teen ongeveer na middagete in Theuns se wit Opel op pad Wildtuin toe. Voor ons vertrek was ons bekommerd oor die weer, want dit was reënseisoen en die voorafgaande paar dae het die Oos-Transvaal afwisselend swaar reënbuie gehad. Sou die kolfblad nat wees, sou dit ’n vrugtelose uitstappie wees. Ons sou nie kon speel nie. Ons kon ook nie na die Sondag in die Wildtuin aanbly om darem ’n kort vakansie daarvan te maak nie. Ons moes die Maandag weer werk.

Ons plan was toe om in Witrivier te oornag om vroeg die Saterdagoggend weer te vertrek om betyds te wees vir die aanvang van die wedstryd wat om tienuur sou begin.

Net anderkant Middelburg sien ons hoe dik wolke op die horison in die rigting van die Laeveld begin aanpak en kolk. Die gedreun van die donderweer is nog te ver om te hoor, maar die bliksemstrale wat chaoties in die hemelruim vertak, waarsku ons dat ons ’n verwoestende storm nader.

Toe ons die afdraai na Schoemanskloof neem, is dit al sterk skemer en die eerste swaar reëndruppels spat van die windskerm af. Ons bekommer ons min oor die armageddon van elektriese geweld, tierende reënvlae en die kakofonie van donderslae waarteen en waardeur die Opeltjie ons soos ’n beskermende kokon moes dra. Dit moet net nie op Skukuza reën nie!
En dit reën en dit donder en dit blits! En ons praat met mekaar maar kan nie eens ons eie stemme hoor nie. En die pad is sleg. En Theuns stuur die Opeltjie en ek probeer navigeer. En ek sien geen pad nie, maar Theuns hou koers. Dit was seker met ’n soort bomenslikheid dat hy, wanneer ’n bliksemstraal die omgewing in die skerpte van daglig hul, die pad en rigting vorentoe telkens in sy brein gekarteer het. En ons bekommer ons nie meer oor of dit in Skukuza reën of nie. Dit gaan nou om oorlewing!

Ons is die storm deur en kom laat-aand by die hotel in Witrivier aan.
Die hotel is vol, maar gelukkig het hulle nog ’n driebed-rondawel oor waarin ons kan oornag. Met die intrapslag merk ek en Theuns onmiddellik op dat een van die beddens reg onder ’n lek in die dak staan. Die blink kol op die beddegoed het dit verraai. Ons duik toe elkeen onmiddellik vir ’n droë bed en J staan bedroë die spulletjie en aankyk. Ons het toe darem deur die hotelbestuur kon reël dat J ’n droë bed neffens die druppende water, waarvoor hulle toe ook ’n emmer verskaf het, kon kry. Ons het natuurlik min slaap gekry met die gedrup-drup wat aan ’n Noord-Viëtnamese martelkamer herinner het.

Op Skukuza aangekom, was dit ’n mooi sonskyndag – maar die wêreld was nat! Gelukkig het hulle goeie bedekking vir die kolfblad gehad sodat ons darem die wedstryd kon speel. Ek kan nie onthou wie gewen het nie. Ek onthou net dat Theuns as openingskolwer lank staande gebly het en baie lopies aangeteken het. Ek het nie veel lopies gekry nie. Toe ek die bal net buite my wegpen na die dekpunt wou dryf (een van my gunstelinghoue), misreken ek my met die swaai van die bal as gevolg van die vogtige lug en word in die glippe uitgevang. J het ook ’n klompie lopies gekry. Toe ons moes veldwerk doen, was die vogtige lug natuurlik ideaal vir my boulwerk en ek kon ’n hele paar paaltjies inpalm.

Die aand, na die wedstryd, is dit toe vleisbraaityd by die klubhuis naas die krieketveld. Af en toe skyn een van die Skukuza-spelers met ’n skerp lig oor die krieketveld om vir ons te wys hoedat rooibokke snags hulle staan op die veld kom kry. Hulle weet toe te vertel dat roofdiere ook dikwels rooibokke daar vastrek.

Twee of drie van die tabakmanne was nog ’n jaar of wat voor hierdie uitstappie studente. Hulle was baie goeie krieketspelers, maar hulle het nog nie hulle liefdesverhouding met Bacchus afgesweer gehad nie. Toe ons na middernag die Skukuzadorp verlaat om binne-in die ruskamp in ’n slaapsaal wat hulle vir ons gereed gemaak het, te gaan oornag, was die Bacchusmanne op hulle stukke. 

Ons moes die motors buite die hek parkeer – om nie steurnis in die kamp te veroorsaak nie – en moes verder te voet na die slaapsaal beweeg. Die Bacchusmanne se inhibisies het toe al lankal ’n ander koers ingeslaan as die een waarheen hulle op pad was. Sonder inhibisies om hulle op koers te hou, begin die Bacchusmanne toe tussen die rondawels rondhardloop en probeer ’n beskonke gebrul van leeus namaak.

Na die pandemonium van ligte wat aangeskakel word en tannies wat gil dat daar leeus in die kamp is, is ons uiteindelik almal in die slaapsaal. Daar roep B, wat waarskynlik binne die groep die mees senior pos by die betrokke maatskappy beklee het, almal tot orde en steek ’n namiddernag-gekruide toespraak af oor die beeld van die maatskappy wat geskend is. Die onderlangse gegiggel van die Bacchusmanne spoor B net meer aan tot welsprekendheid.

Maar dit was nog nie die einde nie!

Destyds het jongmanne nie met pajamas geslaap nie. Jy het kaal-bolyf met net ’n rugbybroekie aan geslaap. Toe die Bacchusmanne J met sy kolletjies-pajamas sien, is die duiwel in al sy gedaantes weer los. B spreek bo die rumoer uit opnuut in tale wat net hy en die duiwel waarskynlik verstaan, J raak van sy pajamas ontslae om net in sy onderbroek te slaap en die Bacchusmanne lê saggies in hulle kussings en giggel totdat die roes hulle sagweg in die arms van Morpheus besorg.

Die volgende oggend is ons vroeg op. Ons plan was om in Witrivier ontbyt te nuttig. Voordat ons vertrek, maak ons gou eers weer ’n draai op die stoep voor die restaurant om te sien of daar nie diere anderkant op die oewer van die Sabierivier te bespeur is nie. Maar die rivier is vol ... en van ’n oewer is daar geen sprake nie want die bruisende water met takke en allerlei ander opdrifsels het reeds ver oor die rivier se walle gestoot sodat die nuutgemaakte oewer iewers tussen die oorkantste bosse moet wees.

Om so gou as moontlik op Pretoriuskop te kom, om dan by die Numbihek die Wildtuin te verlaat, neem ons die Doispan-teerpad reguit Pretoriuskop toe.

 Destyds het ’n mens nie – soos deesdae – om elke hoek en draai ’n seekoei gesien nie. Daarom was daar ’n uitkykplek op die grondpad langs die Sabierivier, vanwaar ’n mens saam met ’n gewapende gids na die uitkykpunt kon stap om die seekoeie te sien. Net voordat ons die afdraai-grondpad bereik wat deur die (gewoonlik droë) drif by Spanplekspruit loop, sê J hy wil graag seekoeie sien.

Theuns draai toe summier af om J die geleentheid te bied. Pas afgedraai, merk ons op dat die pad met droë takke versper is, maar dat die takke aan die eenkant weggetrek is om ’n deurgang te bewerkstellig. Ons kennis van die Wildtuin bring die besef dat die pad gesluit is, maar die eenkant-takke laat ons vermoed dat die pad gesluit was en nou weer oopgestel is. Maar ons dink nie verder dat ’n olifant miskien vir die wegsleep van die takke verantwoordelik kon wees nie.

Die droëloop-drif is toe vandag nie droog nie. As afvoerspruit wat die Sabierivier voed, spoel die water teen ’n redelike vinnige spoed af rivier toe, gelukkig sonder enige opdrifsels. Ek besef toe ons sal moet omdraai, maar hier van die agterste sitplek af hoor ek J net sê: “Laat waai, Theuns.” Die verwyt kan seker gerig word aan een van die vorige aand se losloop-duiwels – en Theuns laat waai, iets wat nie in sy aard was nie, want hy het altyd goeie oordeel aan die dag gelê.

Toe die Opeltjie die water vat, besef ons onmiddellik dit is dieper as wat dit op die oog af lyk – en hoe dapper die Opeltjie ook al voortstu, hy was nie vir ruwe omstandighede of onverantwoordelikheid bestem nie. In die middel van die stroom weier sy kragte botweg om hom verder te neem, dít terwyl die enjintjie nog moedig brul. Ek en J moet uit om die getroue enjin hulp te verleen. Toe ek my skoene uit het en die deur oopmaak, spoel die water binne: ons is dieper in die spruit se water – en ook in die warm water – as wat ons vermoed het. 

Ek en J spook van agter en die enjintjie brul, maar hond-haar-af maak ons nie. Skielik hoor ons stemme agter ons. Daar staan ’n motor uit Suid-Rhodesië. Die manne het in dieselfde strik as ons getrap – maar gelukkig het hulle nog nie die spruit aangedurf nie. Met die ekstra mannekrag het ons die Opeltjie gou weer aan die beweeg en daar trek hy anderkant uit. Toe die Rhodesië-manne terugdraai en ons bedank vir die feit dat hulle deur ons toedoen gewaarsku is, besef ons dat die pad nooit oopgemaak was nie, en met die baie reën van die voorafgaande dae waarskynlik nog lank gaan toe bly.

Ons verligting was groot, maar dit was ’n verligting met sterk ondertone van bekommernis – want terugdraai kan ons nie, en die padkaart toon nog drie spruite vorentoe wat ons moet deur voordat die pad wegdraai van die rivier af. En ons weet ook dat daar vir dae niemand op hierdie pad te sien sal wees nie – en ons was jare verwyder van die feit dat iemand ooit ’n gedagte sou gehad het oor die moontlikheid van draagbare selfone. Daar is dus net een uitweg: vorentoe!

Soos verwag, is die volgende droëloop ook ’n spruit. Die water is egter nie so tierend soos by ons eerste deurgang nie. Ons waag dit egter nie met die Opeltjie daardeur voordat ons nie die water getoets het nie. Ek en J is die water in terwyl Theuns die omgewing moet dophou vir die moontlikheid van roofdiere. ’n Klompie bobbejane wat eenkant wei, stel ons toe in ’n mate gerus. Waar die water vir ons te diep lyk en voel, pak ek en J groot klippe wat gelukkig oral rondlê. Nou moet Theuns versigtig ry om nie die klippe mis te ry nie. Daarom loop ek en J langs die Opeltjie terwyl hy deur die water waad. Anderkant uit is ons weer op pad, met ’n geruster gemoed – maar nog nie spraaksaam nie.

By die volgende spruit is dit dieselfde storie. Nou moet Theuns egter ekstra waaksaam wees, want daar is nie ander diere in die omgewing om ons gerus te stel dat daar nie roofdiere is nie. Ons is weer anderkant uit! Nou word dit ’n avontuur! Ons begin weer gesels en lag en grappies maak oor die pad wat ons reeds afgelê het. Ons selfvertroue is terug! Nou moet ons nog net een spruit deur.

En die seekoeie is lankal vergete.

Maar by die laaste spruit sak ons moed in ons skoene, ontdaan van ons bravade van ’n paar minute gelede. Die stroom vloei sterk en die stroom is wyd. En met ’n moedelose stem sê J: “Die rivier is vol. Hier kry selfs Moses met sy staf ons nie deur nie!”

 

 

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Met die blou BMW in die Wildtuin ... Dit was baie lank gelede. Toe koop ek mos hierdie blou BMW – sewe reeks, tweedehands. Ek was nie daar...