Die rivier is vol ...Dit was in die dae toe Zimbabwe nog Suid-Rhodesië was – en alles anders was. Ons het in die Wildtuin op Skukuza gaan krieket speel. Twee van die lede van ons krieketspan wat by ’n bekende tabakmaatskappy
werksaam was, het van tyd tot tyd vriendskaplike krieketwedstryde teen ander
instansies gereël. ’n Paar van ons spanlede is dan altyd genooi om hulle
span te versterk. Ek en my broer Theuns was altyd onder die
uitverkorenes. Tydens hierdie geleentheid het een van ons ander spanlede, J,
ook die tog na die Wildtuin meegemaak. J was nog nooit voorheen in die
Wildtuin nie. Die wedstryd sou die Saterdag plaasvind. Ons is die Vrydagmiddag teen ongeveer na middagete in Theuns se wit Opel
op pad Wildtuin toe. Voor ons vertrek was ons bekommerd oor die weer, want
dit was reënseisoen en die voorafgaande paar dae het die Oos-Transvaal
afwisselend swaar reënbuie gehad. Sou die kolfblad nat wees, sou dit ’n
vrugtelose uitstappie wees. Ons sou nie kon speel nie. Ons kon ook nie na die
Sondag in die Wildtuin aanbly om darem ’n kort vakansie daarvan te maak nie.
Ons moes die Maandag weer werk. Ons plan was toe om in Witrivier te oornag om vroeg die Saterdagoggend
weer te vertrek om betyds te wees vir die aanvang van die wedstryd wat om
tienuur sou begin. Net anderkant Middelburg sien ons hoe dik wolke op die horison in die
rigting van die Laeveld begin aanpak en kolk. Die gedreun van die donderweer
is nog te ver om te hoor, maar die bliksemstrale wat chaoties in die
hemelruim vertak, waarsku ons dat ons ’n verwoestende storm nader. Toe ons die afdraai na Schoemanskloof neem, is dit al sterk skemer en die
eerste swaar reëndruppels spat van die windskerm af. Ons bekommer ons min oor
die armageddon van elektriese geweld, tierende reënvlae en die kakofonie van
donderslae waarteen en waardeur die Opeltjie ons soos ’n beskermende kokon
moes dra. Dit moet net nie op Skukuza reën nie! Ons is die storm deur en kom laat-aand by die hotel in Witrivier aan. Op Skukuza aangekom, was dit ’n mooi sonskyndag – maar die wêreld was
nat! Gelukkig het hulle goeie bedekking vir die kolfblad gehad sodat ons
darem die wedstryd kon speel. Ek kan nie onthou wie gewen het nie. Ek onthou
net dat Theuns as openingskolwer lank staande gebly het en baie lopies
aangeteken het. Ek het nie veel lopies gekry nie. Toe ek die bal net buite my
wegpen na die dekpunt wou dryf (een van my gunstelinghoue), misreken ek my
met die swaai van die bal as gevolg van die vogtige lug en word in die glippe
uitgevang. J het ook ’n klompie lopies gekry. Toe ons moes veldwerk doen, was
die vogtige lug natuurlik ideaal vir my boulwerk en ek kon ’n hele paar
paaltjies inpalm. Die aand, na die wedstryd, is dit toe vleisbraaityd by die klubhuis naas
die krieketveld. Af en toe skyn een van die Skukuza-spelers met ’n skerp lig
oor die krieketveld om vir ons te wys hoedat rooibokke snags hulle staan op
die veld kom kry. Hulle weet toe te vertel dat roofdiere ook dikwels
rooibokke daar vastrek. Twee of drie van die tabakmanne was nog ’n jaar of wat voor hierdie
uitstappie studente. Hulle was baie goeie krieketspelers, maar hulle het nog
nie hulle liefdesverhouding met Bacchus afgesweer gehad nie. Toe ons na
middernag die Skukuzadorp verlaat om binne-in die ruskamp in ’n slaapsaal wat
hulle vir ons gereed gemaak het, te gaan oornag, was die Bacchusmanne op
hulle stukke. Ons moes die motors buite die hek parkeer – om nie steurnis in die kamp
te veroorsaak nie – en moes verder te voet na die slaapsaal beweeg. Die
Bacchusmanne se inhibisies het toe al lankal ’n ander koers ingeslaan as die
een waarheen hulle op pad was. Sonder inhibisies om hulle op koers te hou,
begin die Bacchusmanne toe tussen die rondawels rondhardloop en probeer ’n
beskonke gebrul van leeus namaak. Na die pandemonium van ligte wat aangeskakel word en tannies wat gil dat
daar leeus in die kamp is, is ons uiteindelik almal in die slaapsaal. Daar
roep B, wat waarskynlik binne die groep die mees senior pos by die betrokke
maatskappy beklee het, almal tot orde en steek ’n namiddernag-gekruide
toespraak af oor die beeld van die maatskappy wat geskend is. Die onderlangse
gegiggel van die Bacchusmanne spoor B net meer aan tot welsprekendheid. Maar dit was nog nie die einde nie! Destyds het jongmanne nie met pajamas geslaap nie. Jy het kaal-bolyf met
net ’n rugbybroekie aan geslaap. Toe die Bacchusmanne J met sy
kolletjies-pajamas sien, is die duiwel in al sy gedaantes weer los. B spreek
bo die rumoer uit opnuut in tale wat net hy en die duiwel waarskynlik
verstaan, J raak van sy pajamas ontslae om net in sy onderbroek te slaap en
die Bacchusmanne lê saggies in hulle kussings en giggel totdat die roes hulle
sagweg in die arms van Morpheus besorg. Die volgende oggend is ons vroeg op. Ons plan was om in Witrivier ontbyt
te nuttig. Voordat ons vertrek, maak ons gou eers weer ’n draai op die stoep
voor die restaurant om te sien of daar nie diere anderkant op die oewer van
die Sabierivier te bespeur is nie. Maar die rivier is vol ... en van ’n oewer
is daar geen sprake nie want die bruisende water met takke en allerlei ander
opdrifsels het reeds ver oor die rivier se walle gestoot sodat die
nuutgemaakte oewer iewers tussen die oorkantste bosse moet wees. Om so gou as moontlik op Pretoriuskop te kom, om dan by die Numbihek die
Wildtuin te verlaat, neem ons die Doispan-teerpad reguit Pretoriuskop toe. Destyds het ’n mens nie – soos deesdae – om elke hoek en draai ’n
seekoei gesien nie. Daarom was daar ’n uitkykplek op die grondpad langs die
Sabierivier, vanwaar ’n mens saam met ’n gewapende gids na die uitkykpunt kon
stap om die seekoeie te sien. Net voordat ons die afdraai-grondpad bereik wat
deur die (gewoonlik droë) drif by Spanplekspruit loop, sê J hy wil graag
seekoeie sien. Theuns draai toe summier af om J die geleentheid te bied. Pas afgedraai,
merk ons op dat die pad met droë takke versper is, maar dat die takke aan die
eenkant weggetrek is om ’n deurgang te bewerkstellig. Ons kennis van die
Wildtuin bring die besef dat die pad gesluit is, maar die eenkant-takke laat
ons vermoed dat die pad gesluit was en nou weer oopgestel is. Maar ons dink
nie verder dat ’n olifant miskien vir die wegsleep van die takke verantwoordelik
kon wees nie. Die droëloop-drif is toe vandag nie droog nie. As afvoerspruit wat die
Sabierivier voed, spoel die water teen ’n redelike vinnige spoed af rivier
toe, gelukkig sonder enige opdrifsels. Ek besef toe ons sal moet omdraai,
maar hier van die agterste sitplek af hoor ek J net sê: “Laat waai, Theuns.”
Die verwyt kan seker gerig word aan een van die vorige aand se
losloop-duiwels – en Theuns laat waai, iets wat nie in sy aard was nie, want
hy het altyd goeie oordeel aan die dag gelê. Toe die Opeltjie die water vat, besef ons onmiddellik dit is dieper as
wat dit op die oog af lyk – en hoe dapper die Opeltjie ook al voortstu, hy
was nie vir ruwe omstandighede of onverantwoordelikheid bestem nie. In die
middel van die stroom weier sy kragte botweg om hom verder te neem, dít
terwyl die enjintjie nog moedig brul. Ek en J moet uit om die getroue enjin
hulp te verleen. Toe ek my skoene uit het en die deur oopmaak, spoel die
water binne: ons is dieper in die spruit se water – en ook in die warm water
– as wat ons vermoed het. Ek en J spook van agter en die enjintjie brul, maar hond-haar-af maak ons
nie. Skielik hoor ons stemme agter ons. Daar staan ’n motor uit
Suid-Rhodesië. Die manne het in dieselfde strik as ons getrap – maar gelukkig
het hulle nog nie die spruit aangedurf nie. Met die ekstra mannekrag het ons
die Opeltjie gou weer aan die beweeg en daar trek hy anderkant uit. Toe die
Rhodesië-manne terugdraai en ons bedank vir die feit dat hulle deur ons
toedoen gewaarsku is, besef ons dat die pad nooit oopgemaak was nie, en met
die baie reën van die voorafgaande dae waarskynlik nog lank gaan toe bly. Ons verligting was groot, maar dit was ’n verligting met sterk ondertone
van bekommernis – want terugdraai kan ons nie, en die padkaart toon nog drie
spruite vorentoe wat ons moet deur voordat die pad wegdraai van die rivier
af. En ons weet ook dat daar vir dae niemand op hierdie pad te sien sal wees
nie – en ons was jare verwyder van die feit dat iemand ooit ’n gedagte sou
gehad het oor die moontlikheid van draagbare selfone. Daar is dus net een
uitweg: vorentoe! Soos verwag, is die volgende droëloop ook ’n spruit. Die water is egter
nie so tierend soos by ons eerste deurgang nie. Ons waag dit egter nie met
die Opeltjie daardeur voordat ons nie die water getoets het nie. Ek en J is
die water in terwyl Theuns die omgewing moet dophou vir die moontlikheid van
roofdiere. ’n Klompie bobbejane wat eenkant wei, stel ons toe in ’n mate
gerus. Waar die water vir ons te diep lyk en voel, pak ek en J groot klippe
wat gelukkig oral rondlê. Nou moet Theuns versigtig ry om nie die klippe mis
te ry nie. Daarom loop ek en J langs die Opeltjie terwyl hy deur die water
waad. Anderkant uit is ons weer op pad, met ’n geruster gemoed – maar nog nie
spraaksaam nie. By die volgende spruit is dit dieselfde storie. Nou moet Theuns egter
ekstra waaksaam wees, want daar is nie ander diere in die omgewing om ons
gerus te stel dat daar nie roofdiere is nie. Ons is weer anderkant uit! Nou
word dit ’n avontuur! Ons begin weer gesels en lag en grappies maak oor die
pad wat ons reeds afgelê het. Ons selfvertroue is terug! Nou moet ons nog net
een spruit deur. En die seekoeie is lankal vergete. Maar by die laaste spruit sak ons moed in ons skoene, ontdaan van ons
bravade van ’n paar minute gelede. Die stroom vloei sterk en die stroom is
wyd. En met ’n moedelose stem sê J: “Die rivier is vol. Hier kry selfs Moses
met sy staf ons nie deur nie!” |
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking