Tshokwane
Vandag het die wind weer op Tshokwane gewaai – net nie so sterk soos destyds nie toe ons ook in Augustus hier vertoef het vir koffie en beskuit op pad na Skukuza.
Toe het blare, takkies en stof dit te ondraaglik gemaak om
een van die buitetafeltjies te beset. Ons soek toe na 'n tafel onder die
grasafdak, maar tevergeefs. Uiteindelik merk ons 'n leë plekkie op op die kant
van die afdak aan die bos se kant. Elsabe sukkel om die wind-weerbarstige tafeldoek
sy lê te laat kry.
Uiteindelik is die tafeldoek hok geslaan met 'n
koffiefles, die beskuithouer en wat ons nog as tafeldoekgewigte kon gebruik.
Maar die wind waai – en stof en blare en
takkies waai teen ons bene vas.
Ons maak koffie en tee en probeer in die proses
stof en blare uit die bekers hou.
En die wind waai – en elke keer waai daar 'n
tak teen Elsabe se been vas wat sy terstond wegskop terwyl sy nougeset haar
aandag op die maak van die koffie en tee toespits.
En die weerbarstige tak bly teen haar been
vaswaai, totdat sy uit irritasie besluit om die koffie en tee eers daar te laat
en die tak met haar hand te verwyder.
Toe sy kyk na waar sy na die tak tas, uiter sy
skielik 'n angswekkende gil en met 'n onmeetbare spoed staan sy skielik agter
my, stom en versteen soos 'n Lot se vrou.
Toe die skrik van die skielike gil so 'n
bietjie uit my lyf is, leun ek oor die tafel om die oorsaak van die angs te
probeer verstaan – en kyk vas in die swart pupille van 'n groen boomslang!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking