Dinsdag 19 Julie 2022

Met die blou BMW in die Wildtuin ...

Dit was baie lank gelede.

Toe koop ek mos hierdie blou BMW – sewe reeks, tweedehands. Ek was nie daaraan gewoond om tweedehandse motors te koop nie – en ek was nog altyd ‘n Volkswagen-man.

Maar ek wou nog altyd graag ‘n BMW besit.

Nou moet ons mos iewers heen langpad ry met hierdie “nuwe” motor. En watter beter bestemming is daar as die Krugerwildtuin?

Die motor is deeglik versien voor aankope, maar voor ons vertrek kom ek agter dat daar iewers petrol lek, want elke keer wanneer ek die motor aanskakel, ruik ek petrol.

Nou is dit ook so dat ‘n mens dikwels die goedkoopste uitweg soek. ‘n Kollega beveel hierdie agterplaas-werktuigkundige aan. Vriend werktuigkundige deel  my toe mee dat hy ‘n lekkende petrolpypie wat aan die elektriese petrolpomp gekoppel is, vervang het.

Doodgelukkig en gerusgestel vertrek ons Wildtuin toe. En ons ry lekker en voel luuks in hierdie nuwe motor van ons.

Ons ervaring was nog altyd dat wanneer ons die Wildtuin binnery, dit voel asof ‘n gordyn agter jou laat sak word. Dan is jou probleme, onrus en bekommernisse dinge wat aan die ander kant van die gordyn lê. Jy word rustig, kommervry en sorgvry. Dit is asof jy deel word van die Wildtuin.

Die slim mense sou sê die Wildtuin word gesubjektiveer, en die vondse van jou soeke (diere, voëls, insekte, plantegroei) word geobjektiveer – die objekte van jou waarnemingsbelewenisse. Iemand het die verskil op ‘n keer soos volg verduidelik. Hy verwys as voorbeeld na iemand wat ‘n bril dra. Gebruik jy die bril as deel van jou visuele waarneming, word die ervaring van die bril ‘n gesubjektiveerde ervaring. Dit word deel van die subjek (die waarnemer). Word die bril voor die oë verwyder om daarna te kyk, word die visuele ervaring van die bril ‘n geobjektiveerde ervaring – die objek van waarneming.

Min wis ons destyds dat binne in die Wildtuin ander objekte en belewenisse in die Wildtuin baie prominent geobjektiveerde kommer en probleme na vore kan bring – die wesenskenmerke van die Wildtuin totaal vergete.

Nietemin.

Ons kom na middagete op Pretoriuskop aan, waar ons die eerste nag sou oorbly voordat ons na Satara sou vertrek. Omdat dit nog redelik vroeg was, stel ek voor dat ons na Skukuza ry. Ons neem toe die Napi-pad (H1-1) na Skukuza omdat dit die kortste en vinnigste roete sou wees omdat ons nie baie tyd tot ons beskikking gehad het nie.

Skukuza het destyds heel anders gelyk as vandag. Daar was nog ‘n stoep met ‘n rietdak.

Wat ek ook moet noem, is die feit dat daar destyds nie selfone bestaan het nie en dat die enigste telefoniese verbinding in die Wildtuin die een was tussen Skukuza en Pretoriuskop. Andersins was die kampe per radio met mekaar in verbinding.

Ons sit toe langs die rivier en voel meer en meer intens hoedat ons volledig deel word van die Wildtuin. Die Wildtuin word ‘n gesubjektiveerde ervaring.

Na ‘n rukkie maak ons aanstaltes om terug te ry Pretoriuskop toe omdat dit begin laat word en ons rustig wou terugry.

By ons rondawel aangekom, vra Elsabe vir my: “Waar is my handsak?”

In hierdie handsak was al ons geld en ook my rewolwer.

Die soektog in die motor lewer niks op nie. Toe onthou sy dat sy dit langs haar op die bankie waarop ons gesit het, neergesit het.

Nou is die Wildtuin vergete en dinge moet vinnig gebeur binne die tyd tot ons beskikking.

Ons jaag na ontvangs en versoek hulle om telefonies met Skukuza in aanraking te kom en ons probleem aan hulle te stel. Die verligting is groot toe hulle ons meedeel dat ‘n kelner die handsak gevind het en by Skukuza-ontvangs ingelewer het.

Maar die tyd is min en in my kop maak ek sommetjies waarin afstand en spoedbeperking in verhouding tot mekaar bereken word. En ek maak nie voorsiening vir diere-oponthoude op pad nie. En die antwoorde op die sommetjies klop nie met die tyd tot ons beskikking nie.

Net een antwoord bly oor: hoërisiko-spoed na Skukuza en terug.

En die Wildtuin en die helende gesubjektiveerde ervaring daarvan totaal uit ons gemoedservarings verwyder.

Toe ons weer op Pretoriuskop aankom, maak hulle die hek agter die blou BMW toe.

Maar dit was nie die einde nie.

Dié nag slaap ek onrustig. Die handsakgedoente lê vlak in my onderbewussyn. Nou is dit so met 'n droom. Hy gryp hier 'n stukkie en daar 'n stukkie uit jou lewe se ervaringswêreld en krap rond uit vorige ervarings wat diep in jou onderbewussyn geborge lê. Dan voeg hy dit bymekaar, vermeng en versmelt dit en skep dikwels kenbare en onherkenbare beeldkonfigurasies wat weerbarstig net wil uit. Dan droom jy.

Die goeie drome werk ‘n bietjie anders.

Dié nag openbaar die handsakstorie hom egter in talle dramatiese variasies. Rus laat hulle my nie rus of met rus nie.

Die volgende oggend vertrek ons na Satara.

Totdat ons by Tshokwane kom, wil die vorige middag se ervaring nie uit my gedagtes wyk nie. Nadat ons koffie gedrink het op Tshokwane, begin ons weer stadigaan deel word van die Wildtuin op pad na Satara. Op Satara aangekom, is ons weer volledig deel van die Wildtuin: ‘n nuwe gordyn het gesak.

Dit is middag en die tyd voordat die hekke sluit is min. Tog besluit ons om so ‘n entjie op die grondpad na Nwanetsi te ry en iewers om te draai om weer betyds in die kamp te wees. Ons ry stadig en bespied die wêreld om ons op soek na diere.

Skielik word ons bewus van ‘n sterk petrolrreuk in die motor. Ek hou onmiddellik stil en omdat die omgewing redelik bebos is, klim ek versigtig uit sonder om die motor af te skakel sodat ek die bron van die reuk makliker kan naspoor. Dit kom iewers van agter, waarskynlik digby die elektriese petrolpomp. Ek buk agter die motor en kyk …

Die petrol drup nie. Die petrol spuit!

Makeer die pomp iets of is dit weer die pypie? Ek weet nie!

Ek vermoed toe dat dit moontlik gespesialiseerde aandag vereis.

Terstond skakel ek die motor af.

Wat nou?

Ek was bewus van die feit dat daar ‘n AA-kantoor op Satara was, maar hoe kom ons met hulle in aanraking? Ek was ook nie seker of daar motors van Nwanetsi se kant af sal kom sodat hulle vir Elsabe ‘n geleentheid Satara toe kan bied sodat sy my penarie aan hulle kan verduidelik nie – want dit begin reeds skemer word.

Groot is my verligting toe daar ‘n motor van voor af kom. Ek beduie dat hulle moet stop, verduidelik my probleem en baie vriendelik bied hulle haar ‘n geleentheid. Ek voel ongerus, maar tog in ‘n mate verlig dat hulp een of ander tyd sal opdaag. Ek weet ook omdat dit al laat word, ons gelukkig was om seker die laaste motor op pad kamp toe te kon voorkeer.

Nou moet ek maar net probeer rustig raak en wag.

Skielik sien ek ‘n stofwolk voor in die pad aankom. Die stof omgeef die hele omgewing soos die motor spoed verminder en in ‘n bruin stofwolk langs my stilhou. Ek verduidelik my probleem aan die insittendes en stel hulle gerus dat hulp op pad is. “Watter hulp”, vra hulle, “want die AA-werktuigkundige op Satara doen op die oomblik sy periodieke militêre diens. Daar is niemand nie.”

My moed sak in my skoene.

Ek bedank hulle vir die geleentheid kamp toe aangebied maar ek sal moet wag omdat ek nie weet watter reëlings Elsabe miskien kon getref het nie.

In ‘n stofwolk is hulle daar weg.

Dit is nou sterk skemer. Daar is niks te eet in die motor nie, maar dit val my by dat ek ‘n houer water in die bak het vir die wis en onwis sou die motor se waterverkoeler dit benodig. Ek is pas terug in die motor, toe is dit pik-giet-nag donker. En dit is donkermaan. Ek het net nooit voorheen opgemerk dat die skeiding tussen dag en nag in die Wildtuin so skielik is nie.

Ek vermoed toe dat dit my lot is om die hele nag in die motor deur te bring, en wat die dag sal bring, dit weet ek nie. Ek weet ek sal maar moet probeer slaap, maar weet ook dat slaap se slaap nooit gaan kom nie.

Toe raak ek skielik bekommerd dat ek my miskien in die pad van bewegende olifante mag bevind – en weet ook dat as gevolg van die duisternis ek hulle eers sal sien wanneer hulle by my is.

Ek verstel die motor se sitplek sodat dit min of meer in ’n slaapposisie is, sit agteroor en maak my oë toe. Kort-kort loer ek egter die donker in. Ek sien niks nie – want dit is nag! Maar met die intense poging om die donker in te kyk, verbeel ek my dat ek groot, donker skaduwees gewaar. En dan sê my verbeelding ook vir my dat daar ligte stampe teen die motor was. Dan stel ek myself gerus met die gedagte dat dit net my verbeelding is, sluit my oë en probeer slaap.

Snaaks genoeg, hoor ek ook niks nie – geen naggeluide nie.

Omdat dit ‘n lang nag gaan wees, kyk ek kort-kort op my horlosie. Wanneer ek dink ‘n uur is al verby, is dit telkens omtrent net tien minute. Ek besef toe dat die rede daarvoor waarskynlik toegeskryf kan word aan iets wat grens aan sensoriese deprivasie. In kort beteken dit dat wanneer ‘n mens byvoorbeeld van eksterne ouditiewe en visuele prikkels ontneem word, jou begrip van onder andere tydsverloop versteur word. Ek besef toe dat ek die horlosiekykery moet laat vaar.

So lê ek toe maar met toe oë.

Skielik hoor ek die eerste naggeluide: die gebrul van leeus nie ver agter die motor nie.

Ek kyk op en wat gewaar ek in die truspieëltjie.

Van ver agter lyk dit soos twee motorliggies aan die kom. Dit kan net die AA-man wees.

Kom hy by my, vra ek hom hoekom dit so lank geduur het om vanaf Satara by my uit te kom. Sê hy dat hy nie van Satara af gekom het nie, maar vanaf Letaba – en bevestig ook dat die Sataraman besig is met militêre diensplig.

In ‘n japtrap het hy die blou BMW op die sleepwa – ek steeds in die motor. Omtrent ‘n honderd of wat treë op pad na Satara hou hy toe langs die trop leeus, wat ek ‘n kort rukkie hoor brul het, stil. Sy bedoeling was natuurlik dat ek waardering sou hê daarvoor – maar in hierdie stadium stel ek nie in leeus of enige ander dier belang nie.

Op Satara aangekom, ondersoek hy die petrolprobleem. Waar die pyp aan die petrolpomp vaskom, het ‘n skeur ontstaan. Hy sny die pyp korter, verbind dit aan die pomp – en siedaar. Hy voeg toe ook by dat hierdie petrolpyp nie die standaardpyp vir ’n BMW is nie.

En toe is hy weer op pad na Letaba.

Nie lank daarna nie het ek die blou BMW verkoop.

 

Die rivier is vol ...

Dit was in die dae toe Zimbabwe nog Suid-Rhodesië was – en alles anders was. Ons het in die Wildtuin op Skukuza gaan krieket speel.

Twee van die lede van ons krieketspan wat by ’n bekende tabakmaatskappy werksaam was, het van tyd tot tyd vriendskaplike krieketwedstryde teen ander instansies gereël. ’n Paar van ons spanlede is dan altyd genooi om hulle span te versterk. Ek en my broer Theuns was altyd onder die uitverkorenes. Tydens hierdie geleentheid het een van ons ander spanlede, J, ook die tog na die Wildtuin meegemaak. J was nog nooit voorheen in die Wildtuin nie.

Die wedstryd sou die Saterdag plaasvind.

Ons is die Vrydagmiddag teen ongeveer na middagete in Theuns se wit Opel op pad Wildtuin toe. Voor ons vertrek was ons bekommerd oor die weer, want dit was reënseisoen en die voorafgaande paar dae het die Oos-Transvaal afwisselend swaar reënbuie gehad. Sou die kolfblad nat wees, sou dit ’n vrugtelose uitstappie wees. Ons sou nie kon speel nie. Ons kon ook nie na die Sondag in die Wildtuin aanbly om darem ’n kort vakansie daarvan te maak nie. Ons moes die Maandag weer werk.

Ons plan was toe om in Witrivier te oornag om vroeg die Saterdagoggend weer te vertrek om betyds te wees vir die aanvang van die wedstryd wat om tienuur sou begin.

Net anderkant Middelburg sien ons hoe dik wolke op die horison in die rigting van die Laeveld begin aanpak en kolk. Die gedreun van die donderweer is nog te ver om te hoor, maar die bliksemstrale wat chaoties in die hemelruim vertak, waarsku ons dat ons ’n verwoestende storm nader.

Toe ons die afdraai na Schoemanskloof neem, is dit al sterk skemer en die eerste swaar reëndruppels spat van die windskerm af. Ons bekommer ons min oor die armageddon van elektriese geweld, tierende reënvlae en die kakofonie van donderslae waarteen en waardeur die Opeltjie ons soos ’n beskermende kokon moes dra. Dit moet net nie op Skukuza reën nie!
En dit reën en dit donder en dit blits! En ons praat met mekaar maar kan nie eens ons eie stemme hoor nie. En die pad is sleg. En Theuns stuur die Opeltjie en ek probeer navigeer. En ek sien geen pad nie, maar Theuns hou koers. Dit was seker met ’n soort bomenslikheid dat hy, wanneer ’n bliksemstraal die omgewing in die skerpte van daglig hul, die pad en rigting vorentoe telkens in sy brein gekarteer het. En ons bekommer ons nie meer oor of dit in Skukuza reën of nie. Dit gaan nou om oorlewing!

Ons is die storm deur en kom laat-aand by die hotel in Witrivier aan.
Die hotel is vol, maar gelukkig het hulle nog ’n driebed-rondawel oor waarin ons kan oornag. Met die intrapslag merk ek en Theuns onmiddellik op dat een van die beddens reg onder ’n lek in die dak staan. Die blink kol op die beddegoed het dit verraai. Ons duik toe elkeen onmiddellik vir ’n droë bed en J staan bedroë die spulletjie en aankyk. Ons het toe darem deur die hotelbestuur kon reël dat J ’n droë bed neffens die druppende water, waarvoor hulle toe ook ’n emmer verskaf het, kon kry. Ons het natuurlik min slaap gekry met die gedrup-drup wat aan ’n Noord-Viëtnamese martelkamer herinner het.

Op Skukuza aangekom, was dit ’n mooi sonskyndag – maar die wêreld was nat! Gelukkig het hulle goeie bedekking vir die kolfblad gehad sodat ons darem die wedstryd kon speel. Ek kan nie onthou wie gewen het nie. Ek onthou net dat Theuns as openingskolwer lank staande gebly het en baie lopies aangeteken het. Ek het nie veel lopies gekry nie. Toe ek die bal net buite my wegpen na die dekpunt wou dryf (een van my gunstelinghoue), misreken ek my met die swaai van die bal as gevolg van die vogtige lug en word in die glippe uitgevang. J het ook ’n klompie lopies gekry. Toe ons moes veldwerk doen, was die vogtige lug natuurlik ideaal vir my boulwerk en ek kon ’n hele paar paaltjies inpalm.

Die aand, na die wedstryd, is dit toe vleisbraaityd by die klubhuis naas die krieketveld. Af en toe skyn een van die Skukuza-spelers met ’n skerp lig oor die krieketveld om vir ons te wys hoedat rooibokke snags hulle staan op die veld kom kry. Hulle weet toe te vertel dat roofdiere ook dikwels rooibokke daar vastrek.

Twee of drie van die tabakmanne was nog ’n jaar of wat voor hierdie uitstappie studente. Hulle was baie goeie krieketspelers, maar hulle het nog nie hulle liefdesverhouding met Bacchus afgesweer gehad nie. Toe ons na middernag die Skukuzadorp verlaat om binne-in die ruskamp in ’n slaapsaal wat hulle vir ons gereed gemaak het, te gaan oornag, was die Bacchusmanne op hulle stukke. 

Ons moes die motors buite die hek parkeer – om nie steurnis in die kamp te veroorsaak nie – en moes verder te voet na die slaapsaal beweeg. Die Bacchusmanne se inhibisies het toe al lankal ’n ander koers ingeslaan as die een waarheen hulle op pad was. Sonder inhibisies om hulle op koers te hou, begin die Bacchusmanne toe tussen die rondawels rondhardloop en probeer ’n beskonke gebrul van leeus namaak.

Na die pandemonium van ligte wat aangeskakel word en tannies wat gil dat daar leeus in die kamp is, is ons uiteindelik almal in die slaapsaal. Daar roep B, wat waarskynlik binne die groep die mees senior pos by die betrokke maatskappy beklee het, almal tot orde en steek ’n namiddernag-gekruide toespraak af oor die beeld van die maatskappy wat geskend is. Die onderlangse gegiggel van die Bacchusmanne spoor B net meer aan tot welsprekendheid.

Maar dit was nog nie die einde nie!

Destyds het jongmanne nie met pajamas geslaap nie. Jy het kaal-bolyf met net ’n rugbybroekie aan geslaap. Toe die Bacchusmanne J met sy kolletjies-pajamas sien, is die duiwel in al sy gedaantes weer los. B spreek bo die rumoer uit opnuut in tale wat net hy en die duiwel waarskynlik verstaan, J raak van sy pajamas ontslae om net in sy onderbroek te slaap en die Bacchusmanne lê saggies in hulle kussings en giggel totdat die roes hulle sagweg in die arms van Morpheus besorg.

Die volgende oggend is ons vroeg op. Ons plan was om in Witrivier ontbyt te nuttig. Voordat ons vertrek, maak ons gou eers weer ’n draai op die stoep voor die restaurant om te sien of daar nie diere anderkant op die oewer van die Sabierivier te bespeur is nie. Maar die rivier is vol ... en van ’n oewer is daar geen sprake nie want die bruisende water met takke en allerlei ander opdrifsels het reeds ver oor die rivier se walle gestoot sodat die nuutgemaakte oewer iewers tussen die oorkantste bosse moet wees.

Om so gou as moontlik op Pretoriuskop te kom, om dan by die Numbihek die Wildtuin te verlaat, neem ons die Doispan-teerpad reguit Pretoriuskop toe.

 Destyds het ’n mens nie – soos deesdae – om elke hoek en draai ’n seekoei gesien nie. Daarom was daar ’n uitkykplek op die grondpad langs die Sabierivier, vanwaar ’n mens saam met ’n gewapende gids na die uitkykpunt kon stap om die seekoeie te sien. Net voordat ons die afdraai-grondpad bereik wat deur die (gewoonlik droë) drif by Spanplekspruit loop, sê J hy wil graag seekoeie sien.

Theuns draai toe summier af om J die geleentheid te bied. Pas afgedraai, merk ons op dat die pad met droë takke versper is, maar dat die takke aan die eenkant weggetrek is om ’n deurgang te bewerkstellig. Ons kennis van die Wildtuin bring die besef dat die pad gesluit is, maar die eenkant-takke laat ons vermoed dat die pad gesluit was en nou weer oopgestel is. Maar ons dink nie verder dat ’n olifant miskien vir die wegsleep van die takke verantwoordelik kon wees nie.

Die droëloop-drif is toe vandag nie droog nie. As afvoerspruit wat die Sabierivier voed, spoel die water teen ’n redelike vinnige spoed af rivier toe, gelukkig sonder enige opdrifsels. Ek besef toe ons sal moet omdraai, maar hier van die agterste sitplek af hoor ek J net sê: “Laat waai, Theuns.” Die verwyt kan seker gerig word aan een van die vorige aand se losloop-duiwels – en Theuns laat waai, iets wat nie in sy aard was nie, want hy het altyd goeie oordeel aan die dag gelê.

Toe die Opeltjie die water vat, besef ons onmiddellik dit is dieper as wat dit op die oog af lyk – en hoe dapper die Opeltjie ook al voortstu, hy was nie vir ruwe omstandighede of onverantwoordelikheid bestem nie. In die middel van die stroom weier sy kragte botweg om hom verder te neem, dít terwyl die enjintjie nog moedig brul. Ek en J moet uit om die getroue enjin hulp te verleen. Toe ek my skoene uit het en die deur oopmaak, spoel die water binne: ons is dieper in die spruit se water – en ook in die warm water – as wat ons vermoed het. 

Ek en J spook van agter en die enjintjie brul, maar hond-haar-af maak ons nie. Skielik hoor ons stemme agter ons. Daar staan ’n motor uit Suid-Rhodesië. Die manne het in dieselfde strik as ons getrap – maar gelukkig het hulle nog nie die spruit aangedurf nie. Met die ekstra mannekrag het ons die Opeltjie gou weer aan die beweeg en daar trek hy anderkant uit. Toe die Rhodesië-manne terugdraai en ons bedank vir die feit dat hulle deur ons toedoen gewaarsku is, besef ons dat die pad nooit oopgemaak was nie, en met die baie reën van die voorafgaande dae waarskynlik nog lank gaan toe bly.

Ons verligting was groot, maar dit was ’n verligting met sterk ondertone van bekommernis – want terugdraai kan ons nie, en die padkaart toon nog drie spruite vorentoe wat ons moet deur voordat die pad wegdraai van die rivier af. En ons weet ook dat daar vir dae niemand op hierdie pad te sien sal wees nie – en ons was jare verwyder van die feit dat iemand ooit ’n gedagte sou gehad het oor die moontlikheid van draagbare selfone. Daar is dus net een uitweg: vorentoe!

Soos verwag, is die volgende droëloop ook ’n spruit. Die water is egter nie so tierend soos by ons eerste deurgang nie. Ons waag dit egter nie met die Opeltjie daardeur voordat ons nie die water getoets het nie. Ek en J is die water in terwyl Theuns die omgewing moet dophou vir die moontlikheid van roofdiere. ’n Klompie bobbejane wat eenkant wei, stel ons toe in ’n mate gerus. Waar die water vir ons te diep lyk en voel, pak ek en J groot klippe wat gelukkig oral rondlê. Nou moet Theuns versigtig ry om nie die klippe mis te ry nie. Daarom loop ek en J langs die Opeltjie terwyl hy deur die water waad. Anderkant uit is ons weer op pad, met ’n geruster gemoed – maar nog nie spraaksaam nie.

By die volgende spruit is dit dieselfde storie. Nou moet Theuns egter ekstra waaksaam wees, want daar is nie ander diere in die omgewing om ons gerus te stel dat daar nie roofdiere is nie. Ons is weer anderkant uit! Nou word dit ’n avontuur! Ons begin weer gesels en lag en grappies maak oor die pad wat ons reeds afgelê het. Ons selfvertroue is terug! Nou moet ons nog net een spruit deur.

En die seekoeie is lankal vergete.

Maar by die laaste spruit sak ons moed in ons skoene, ontdaan van ons bravade van ’n paar minute gelede. Die stroom vloei sterk en die stroom is wyd. En met ’n moedelose stem sê J: “Die rivier is vol. Hier kry selfs Moses met sy staf ons nie deur nie!”

 

 

 

 

Nkhulu

Shakespeare het nie veel erg aan ’n naam gehad nie. Daarenteen het die filosoof-taalkundige Searle beweer dat elke naam ’n deskriptiewe betekenisagtergrond het. Dit beteken dat afgesien van ’n soort universele assosiasie wat deur bepaalde name opgeroep word, soos in die geval van Afrika, Napoleon, Hitler, Mozart en andere, elkeen van ons tog ook eie gewaarwordinge het van name op grond van ons persoonlike lees-, geloofs-, kulturele, werklike of watter ervarings ook al met die draers van die bepaalde name. En dan gee ons ook somtyds name aan mense en dinge op grond van hierdie soort gewaarwordinge.

So was dit dan ook die geval met Otto Botha.

Ons was vroegoggend vanaf Onder-Sabie op pad na Skukuza. ’n Paar kilometer voor die piekniekstilhouplekkie Nkuhlu het ons by ’n paar koedoes langs die pad stilgehou. Ons het nog nooit voorheen gesien dat hulle die vrugte van die worsboom (kigelia africana) eet nie, alhoewel die eet van die blare van die betrokke boom nie by hulle onbekend is nie. Nog in verwondering oor dié verskynsel merk ek skielik in die motor se truspieëltjie ’n leeu op wat van agter op die teerpad aangestap kom. Die koedoes laat spaander en ’n paar bobbejane voor in die pad, waarvan party ook aan die vrugte van die worsboom eet, maak hulle ook vinnig uit die voete. Die ander hou hom dop terwyl hulle weerbarstig in die pad bly sit totdat die leeu weer die ruigtes in is.

Diegene wat gereelde besoekers aan die Wildtuin is, sal weet dat die gewaarwordinge by so ’n verskeidenheid wildtuin-ervaringe ’n adrenalien-bonus is by die genoegdoening van net-in-die-wildtuin-te-wees. Verder op pad is ons toe nog steeds daaroor aan die gesels toe ons om ’n draai skielik ’n klomp motors sien wat die pad versper. My eerste reaksie by so ’n gesig is altyd om net te probeer verbykom, want in die opgewondenheid om te sien wat hulle sien, gebeur dit dikwels dat die bestuurders van dié motors se bedagsaamheid gereduseer word tot ’n ongeskiktheid deur die instink van visuele toe-eiening. Dit gebeur toe dat ek deur eie bedagsaamheid die nou deurgangsopening wat gelaat is, afstaan aan ’n motor wat van voor af aankom en in die proses agter ’n blou Opel intrek wat dwars oor die pad staan. Met die dat ek wou terugtrek nadat die aankomende motor verby is, merk ek op dat ’n motor van agter my agteruitgang versper het en ek dus vasgeparkeer is, ten spyte van die deurgang wat nog bestaan. Die blou Opel sou seker aanstons effens vorentoe trek – wanneer die bestuurder my in sy truspieël sien – om my die geleentheid te bied om verby te kom.

Maar helaas, dit gebeur nie!

Die Opel-man knoop ’n praatjie aan met elkeen wat van voor af kom. Ek probeer sy opgewondenheid verstaan alhoewel ons nêrens die vonds sien wat daartoe lei nie. My poging tot begrip verdring egter nie die opwelling van ongedurigheid wat spruit uit die kloustrofobie van inperking nie. Teen die tyd dat ons wel verbykom, is Opel-man, salig onbewus daarvan, my onbekende geswore vyand – ’n metamorfose van die opwinding van  ’n paar kilometer gelede.

By Nkuhlu aangekom, merk ek op dat die blou Opel ook intrek.

Oral sit mense by die tafeltjies en laat-ontbyt geniet. Sommiges braai wors en spek en eiers op gasroosters, ander verlustig hulle aan die lekkernye uit piekniekmandjies.

Ek merk toe op dat daar net twee tafeltjies, teen mekaar geplaas, beskikbaar is – en ek en Opel-man pyl albei daarop af.  Waarskynlik omdat ek jonger as Opel-man is, bereik ek dit eerste. Met ’n hoflikheid, deur skynheiligheid gestroop van sy innigheid, bied ek toe aan om die twee tafeltjies te skei sodat ons twee pare afsonderlik ons eie laat-ontbyt in vrede kan geniet.

Ek drink my filterkoffie, Elsabe haar tee, en ons geniet tuisnywerheidbeskuit en oorbly-wors van die vorige aand se braai toe Opel-man omdraai en vra of ons ook die luiperd gesien het. My ontkenning spoor hom toe aan om sy tiensekonde-ervaring van die luiperd wat sy prooi in ’n afvoerpyp insleep, in fyn besonderhede te verhaal. Hy vertel toe ook van die soort bome waarin ’n luiperd gewoonlik sy prooi opsleep en die ongewoonheid daarvan dat die besondere luiperd dit nie gedoen het nie. En hy vertel dat hulle jaarliks Wildtuin toe kom. En ek kom agter dat Opel-man ’n gesoute Wildtuinganger is en dat hy baie weet van die diere en plantegroei van die Wildtuin.

Toe hy vir ’n oomblik weer terugdraai na sy eie ontbyt, sê Elsabe saggies: “Dit is jou naamgenoot.” Ek frons en sy beduie met haar kop na waar hulle piekniekmandjie staan.

En daar sien ek dit – langs hulle piekniekmandjie!

Op  ’n leë roomysbak is die naam O. Botha geverf.

En die geverfde naam op die leë roomysbak word  ’n loergat. En ek kyk daardeur na die die wêreld van Opel-man. En ek sien die gevulde roomysbak wat na die eienaar moet terugkom na die kerkbasaar. En ek sien die maandelikse begroting waarop die kerkbydrae eerste geplaas is. En ek sien Opel-man sy eie motor versien voor sy Wildtuin-vakansie. En ek sien dokters- en apteekrekeninge. En ek weet die maandelikse pensioen kan geen luukshede bekostig nie. Maar ek weet ook dat Opel-man se geluk op ’n ander vlak funksioneer!

En skielik word ek met ’n deernis gevul wat die ongeduld en wrewel oor Opel-man wegskuif na ’n ver hoekie van my gemoed, wegsit op ’n plekkie waaruit ek dit weer anderdag kan uithaal sou ek dit nodig kry.

En ek weet toe hy moet Otto Botha heet! Hy moet Otto Botha heet nie omdat ek hom ooit sal aanspreek nie, nie dat ek gereeld na hom sal verwys nie – maar Otto Botha omdat die naam spatsels van my gewaarwordinge tot ’n beeld versmelt het: die chemiese verbinding van gewaarwordinge wat gesmag het na gestalte in ’n woord.

En toe ek kyk na hoe hy wegstap na die blou Opel, met die piekniekmandjie in sy regterhand en die linkerbeen wat die suggestie van ’n mankheid probeer verbloem, toe weet ek iets binne-in mý het ’n naam gekry!

Tshokwane

Vandag het die wind weer op Tshokwane gewaai – net nie so sterk soos destyds nie toe ons ook in Augustus hier vertoef het vir koffie en beskuit op pad na Skukuza.

Toe het blare, takkies en stof dit te ondraaglik gemaak om een van die buitetafeltjies te beset. Ons soek toe na 'n tafel onder die grasafdak, maar tevergeefs. Uiteindelik merk ons 'n leë plekkie op op die kant van die afdak aan die bos se kant. Elsabe sukkel om die wind-weerbarstige tafeldoek sy lê te laat kry.

Uiteindelik is die tafeldoek hok geslaan met 'n koffiefles, die beskuithouer en wat ons nog as tafeldoekgewigte kon gebruik. 

Maar die wind waai – en stof en blare en takkies waai teen ons bene vas.

Ons maak koffie en tee en probeer in die proses stof en blare uit die bekers hou.

En die wind waai – en elke keer waai daar 'n tak teen Elsabe se been vas wat sy terstond wegskop terwyl sy nougeset haar aandag op die maak van die koffie en tee toespits.

En die weerbarstige tak bly teen haar been vaswaai, totdat sy uit irritasie besluit om die koffie en tee eers daar te laat en die tak met haar hand te verwyder. 

Toe sy kyk na waar sy na die tak tas, uiter sy skielik 'n angswekkende gil en met 'n onmeetbare spoed staan sy skielik agter my, stom en versteen soos 'n Lot se vrou.

Toe die skrik van die skielike gil so 'n bietjie uit my lyf is, leun ek oor die tafel om die oorsaak van die angs te probeer verstaan – en kyk vas in die swart pupille van 'n groen boomslang!

Met die blou BMW in die Wildtuin ... Dit was baie lank gelede. Toe koop ek mos hierdie blou BMW – sewe reeks, tweedehands. Ek was nie daar...