Nkhulu
So was dit dan ook die geval met Otto Botha.
Ons was vroegoggend vanaf Onder-Sabie op pad na
Skukuza. ’n Paar kilometer voor die piekniekstilhouplekkie Nkuhlu het ons by ’n
paar koedoes langs die pad stilgehou. Ons het nog nooit voorheen gesien dat
hulle die vrugte van die worsboom (kigelia africana) eet nie, alhoewel die eet van die blare van die
betrokke boom nie by hulle onbekend is nie. Nog in verwondering oor dié
verskynsel merk ek skielik in die motor se truspieëltjie ’n leeu op wat van
agter op die teerpad aangestap kom. Die koedoes laat spaander en ’n paar
bobbejane voor in die pad, waarvan party ook aan die vrugte van die worsboom
eet, maak hulle ook vinnig uit die voete. Die ander hou hom dop terwyl hulle
weerbarstig in die pad bly sit totdat die leeu weer die ruigtes in is.
Diegene wat gereelde besoekers aan die Wildtuin
is, sal weet dat die gewaarwordinge by so ’n verskeidenheid wildtuin-ervaringe ’n
adrenalien-bonus is by die genoegdoening van net-in-die-wildtuin-te-wees.
Verder op pad is ons toe nog steeds daaroor aan die gesels toe ons om ’n draai
skielik ’n klomp motors sien wat die pad versper. My eerste reaksie by so ’n
gesig is altyd om net te probeer verbykom, want in die opgewondenheid om te
sien wat hulle sien, gebeur dit dikwels dat die bestuurders van dié motors se
bedagsaamheid gereduseer word tot ’n ongeskiktheid deur die instink van visuele
toe-eiening. Dit gebeur toe dat ek deur eie bedagsaamheid die nou
deurgangsopening wat gelaat is, afstaan aan ’n motor wat van voor af aankom en
in die proses agter ’n blou Opel intrek wat dwars oor die pad staan. Met die
dat ek wou terugtrek nadat die aankomende motor verby is, merk ek op dat ’n
motor van agter my agteruitgang versper het en ek dus vasgeparkeer is, ten
spyte van die deurgang wat nog bestaan. Die blou Opel sou seker aanstons effens
vorentoe trek – wanneer die bestuurder my in sy truspieël sien – om my die
geleentheid te bied om verby te kom.
Maar helaas, dit gebeur nie!
Die Opel-man knoop ’n praatjie aan met elkeen
wat van voor af kom. Ek probeer sy opgewondenheid verstaan alhoewel ons nêrens
die vonds sien wat daartoe lei nie. My poging tot begrip verdring egter nie die
opwelling van ongedurigheid wat spruit uit die kloustrofobie van inperking nie.
Teen die tyd dat ons wel verbykom, is Opel-man, salig onbewus daarvan, my
onbekende geswore vyand – ’n metamorfose van die opwinding van ’n paar kilometer gelede.
By Nkuhlu aangekom, merk ek op dat die blou
Opel ook intrek.
Oral sit mense by die tafeltjies en laat-ontbyt
geniet. Sommiges braai wors en spek en eiers op gasroosters, ander verlustig
hulle aan die lekkernye uit piekniekmandjies.
Ek merk toe op dat daar net twee tafeltjies,
teen mekaar geplaas, beskikbaar is – en ek en Opel-man pyl albei daarop
af. Waarskynlik omdat ek jonger as
Opel-man is, bereik ek dit eerste. Met ’n hoflikheid, deur skynheiligheid
gestroop van sy innigheid, bied ek toe aan om die twee tafeltjies te skei sodat
ons twee pare afsonderlik ons eie laat-ontbyt in vrede kan geniet.
Ek drink my filterkoffie, Elsabe haar tee, en
ons geniet tuisnywerheidbeskuit en oorbly-wors van die vorige aand se braai toe
Opel-man omdraai en vra of ons ook die luiperd gesien het. My ontkenning spoor
hom toe aan om sy tiensekonde-ervaring van die luiperd wat sy prooi in ’n
afvoerpyp insleep, in fyn besonderhede te verhaal. Hy vertel toe ook van die
soort bome waarin ’n luiperd gewoonlik sy prooi opsleep en die ongewoonheid
daarvan dat die besondere luiperd dit nie gedoen het nie. En hy vertel dat
hulle jaarliks Wildtuin toe kom. En ek kom agter dat Opel-man ’n gesoute
Wildtuinganger is en dat hy baie weet van die diere en plantegroei van die
Wildtuin.
Toe hy vir ’n oomblik weer terugdraai na sy eie
ontbyt, sê Elsabe saggies: “Dit is jou naamgenoot.” Ek frons en sy beduie met
haar kop na waar hulle piekniekmandjie staan.
En daar sien ek dit – langs hulle
piekniekmandjie!
Op ’n
leë roomysbak is die naam O. Botha geverf.
En die geverfde naam op die leë roomysbak
word ’n loergat. En ek kyk daardeur na
die die wêreld van Opel-man. En ek sien die gevulde roomysbak wat na die
eienaar moet terugkom na die kerkbasaar. En ek sien die maandelikse begroting
waarop die kerkbydrae eerste geplaas is. En ek sien Opel-man sy eie motor
versien voor sy Wildtuin-vakansie. En ek sien dokters- en apteekrekeninge. En
ek weet die maandelikse pensioen kan geen luukshede bekostig nie. Maar ek weet
ook dat Opel-man se geluk op ’n ander vlak funksioneer!
En skielik word ek met ’n deernis gevul wat die
ongeduld en wrewel oor Opel-man wegskuif na ’n ver hoekie van my gemoed, wegsit
op ’n plekkie waaruit ek dit weer anderdag kan uithaal sou ek dit nodig kry.
En ek weet toe hy moet Otto Botha heet! Hy moet
Otto Botha heet nie omdat ek hom ooit sal aanspreek nie, nie dat ek gereeld na
hom sal verwys nie – maar Otto Botha omdat die naam spatsels van my
gewaarwordinge tot ’n beeld versmelt het: die chemiese verbinding van
gewaarwordinge wat gesmag het na gestalte in ’n woord.
En toe ek kyk na hoe hy wegstap na die blou
Opel, met die piekniekmandjie in sy regterhand en die linkerbeen wat die suggestie
van ’n mankheid probeer verbloem, toe weet ek iets binne-in mý het ’n naam
gekry!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking